Tuesday 29 November 2011

So stukkie uit my daaglikse lewe om mee te begin...

Okay, ek het besluit om ook die blog-ding te probeer. Vraag is net... waarmee begin mens?! Miskien sommer net by vandag.
Ek het nogal 'n klomp dinge om te doen. Kersvadertjies wat ek gemaak het om te label en te prys en op die rak te sit, "kits" om bymekaar te sit vir die kinders wat so 'n lang skoolvakansie het om na uit te sien, om nie te begin praat van my huis/winkel wat so deurmekaar is nie!

Eintlik is ek heeltemal uit my roetine uit. Die juniors gaan nie skool hierdie eerste drie dae van die week nie en met die skool wat Vrydag sluit is ek ook nie elke dag seker wie gaan opdaag vir Crafty Kids nie. So kyk ek toe maar by die deur uit vanoggend en dink, ek beter my tafeldoeke wat gister gewas is bietjie op hulle plekke sit. Sien ek toe weer die hengsel palmtakke wat afgewaai het deur die nag en ek dink, nou moet ek my klein tafeldoekie neersit en netnou netnou lê hy weer op die grond, afgewaai. Intussen is een van die projekte wat vir my wag 'n ou daisy geweer en 'n paar skoentjies van my beste maatjie se kinders wat sy graag ge-"tokreen" wil hê. Dog ek by myself, dis tyd om Debbie se werkies te doen, dit is dan so 'n lekker dag buite. Ek gaan nou hier buite voor die deur sit en dit doen. Terwyl ek die nodige goeters uitdra om weg te spring, kry ek die idee om ietsie te maak om my tafeldoekie vas te hou....

Nou ja, aan die einde van die dag is Debbie se werk gedoen en op my buitetafel staan 'n skinkbordjie met 'n teepot, koppie en piering, melkbeker, suikerpotjie en selfs 'n blompotjie (met blomme). Het ek genoem dat die skinkbord 'n lappie ophet? Self hou ek nie so baie van die tokreengoeters nie, maar dit is darem lekker vir buitekant, want dit bly mooi! Ek het dit nog net eenkeer gedoen met 'n houtseekoei wat verniel het buite en daar is nou al maande verby en dit lyk nog steeds mooi. My arms, nek en gesig is lekker gebrand van die skaduwee wat so rondbeweeg, maar die eindproduk lyk nogal nie te sleg nie. Sal bietjie 'n foto neem en hier plaas.

Ek hoop nie ek verveel enige iemand met hierdie stukkie uit my daaglikse lewe nie... Dankie dat jy dit gelees het xxxS