Thursday 12 January 2012

Wat 'n vreeslike besluit...


Die laaste paar maande van 2011 het ek geweet ek staan voor 'n keuse. Tussen die winkel, Crafty Kids en die paar kinders vir wie ek elke middag "Ouma" speel (kos gee, help met huiswerk en take) het dinge 'n bietjie doller as kop-af begin gaan. Ek het net besef ek sal iets moet prysgee... Dit was 'n bitter moeilike besluit. Ek is lief vir alles wat ek doen, ongelukkig is ek nie meer 30 jaar oud nie en het dinge net 'n bietjie erg begin raak. Na weke se dink het ek wel besluit om nie verder met Crafty Kids aan te gaan nie. Suiwer om finansiële redes. Die naskoolkindertjies is nog daar om die gaping te vul wat ontstaan het met Rouxlé se weggaan. Die vet weet, ek moet elke dag 'n kinderlyfie teen my vasdruk... dit is die vitamiene wat my hart nodig het!
Ek sal seker nou bietjie meer "eie" tyd hê oor naweke en in die aande. Tyd om bietjie aandag te gee aan my eie kunsgoetertjies. 'n Hele paar van my vriendinne het my al lankal gevra om vir hulle plastieksakhouers te maak en dit is darem gedoen oor die vakansie, al was ek 'n regte egte luidier hierdie Desember.
So van Desember gepraat.... Dit is vir my die aakligste tyd van die jaar. En nie omdat ek nie van Kersfees hou nie. Dit is seker maar 'n sielkundige ding. Vandat ek 'n klein dogtertjie was, het Desember altyd vir my met verliese gepaard gegaan. Die heel eerste Kersfees wat ek kan onthou, is toe my pa oorlede is in 1969. En die volgende paar jaar was daar elke Desember 'n begrafnis van 'n geliefde. Die ergste seker ooit was toe my bloedjong niggie oorlede is. Ek het daar gekuier die vakansie en dit was een van die seerste seer wat ek kan onthou. Hierdie Kersfees was nie anders nie. Daar het 'n baie seer ding met my gebeur, iets wat ek nie regtig oor die WWW kan uitblaker nie. Dit is nog seer, maar 'n mens leer maar om met die dinge saam te leef. Gelukkig is ek van kleins af voorberei daarop.
Maar genoeg daarvan. Dis Januarie. Dis 2012. Dis tyd vir nuwe dinge! Ek vertrou almal gaan die beste ooit van jare beleef.
Dankie vir almal wat hier lees. Ek waardeer dit baie.